RANDREKKERS MET VARKBOUD

RANDREKKERS MET VARKBOUD

Postby Selma Alberts » 19 Jun 2012 09:23

Wilna Myburgh

Dié varkboud vir vele het ook vele gebruike: die lekkerste daarvan is natuurlik die tortilla met koolslaai en braaisous.
Dié resep vir varkboud is ‘n wonderlike manier om jou rande te rek as dit by vleis kom.
Die goed gegeurde varkboud word vir ure aaneen in die oond gebak tot dit sag is en uit mekaar kan trek – soortgelyk aan gepluisde hoender. Hierdie vark kan dan in ‘n tortilla of pita met koolslaai en braaisous geniet word, of in ‘n broodrolletjie geëet word.
Dis ook heerlik in ‘n tortilla met avokado, braaisous en suurroom.
Die wonderlikste hiervan is dat daar altyd oorbly! Indien jy nog oor het kan jy dit in ‘n pastagereg omskep, dit op tuisgemaakte pizza sit, of in geroosterde broodjies eet.
Beslis iets om te probeer!


1,5 kg varkboud, op die been

VIR DIE MARINADE:
125 ml bruinsuiker
5 ml sout
10 ml paprika
10 ml fyn komyn
10 ml gedroogde oreganum
5 ml mosterdpoeier
30 ml olie
30 ml witwynasyn

Meng al die bestanddele vir die marinade deeglik saam.

Sny lang kepe in die varkboud se vet.
Smeer die marinade oor die hele varkboud.
Sprinkel met nog sout en varsgemaalde swartpeper.
Die varkboud moet minstens ‘n uur tot vier ure in die marinade baai voordat jy hom in die oond stop.

Stel die oond op 150 °C.
Plaas die vark in ‘n oondpan met ‘n bietjie olie onder in.
Gooi 2 koppies (500 ml) water by en maak die pan met foelie toe.
Bak vir 4 – 5 ure, maar gaan loer net so elke uur of twee of alles nog reg is, en of daar dalk nog water kort.
Die water moet wegkook, maar daar moet altyd bietjie in wees sodat dit nie droogbak nie.
Indien jou varkboud groter is kan jy hom nog langer bak, maar ek het gevind dat ‘n boud van 1,5 kg al na vier ure uit mekaar begin val.
Verwyder dan die foelie en bak nog ‘n halfuur.

Verwyder die varkboud uit die pan en gebruik twee vurke om die varkvleis uit mekaar te haal.
Onder in jou pan behoort daar nou ‘n heerlike sous aan’t vorm te wees.
Indien dit enigsens vasgebrand is, moenie dit gebruik nie, maar as daar nog lekkerte daar onder is, skraap dit bymekaar en voeg dit by die vleis.
Jy kan water bygooi om dit meer souserig te maak voor jy dit by die vleis sit.

Hoeveel sous jy bymekaar kan maak uit die pan bepaal hoeveel braaisous jy gaan byvoeg.
Maak die onderstaande braaisous, en begin deur die helfte daarvan by jou varkvleis te voeg.
Die vleis moet sappig en geurig wees.
Die res van die braaisous kan saam die vark geëet word op welke manier jy dit nou ook probeer.

GEURIGE BRAAISOUS
125 ml tamatiesous
125 ml witwynasyn
30 ml mosterdsous
60 ml bruinsuiker
10 ml gedroogde oreganum
10 ml paprika
10 ml fyn komyn
sprinkel cayenne
125 ml water

Meng al die bestanddele in ‘n klein kastrol saam.
Bring tot kookpunt en kook vir 5 minute.
Verwyder van die hitte en hou eenkant tot gebruik.

KOOLSLAAI
In plaas daarvan om koolslaai met net mayonnaise te maak, kan jy dit effens opjazz.
Maak ‘n sous aan met 60 ml mayonnaise, 30 ml asyn, 15 ml suiker, 15 ml water en ‘n knippie mosterdpoeier.
Voeg ook ‘n paar knippies fyn komyn by. Pas aan na smaak.
Sny ‘n appel in dun skyfies, of rasper dit en voeg ook by die slaai.
Selma Alberts
 
Posts: 4224
Joined: 27 Jun 2011 16:17

Return to RANDREKKERS (BUDGET BEATERS)

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 0 guests